Coba KUNS
PRINTS / LEAN ON ME
PRINTS / LEAN ON ME
Couldn't load pickup availability
GEESTELIKE SKOONHEID, GEKROON IN GOUD
- ’N VIERING VAN VROUE
Titel: ‘Lean on Me’
(3de portret in die Portrait of Purpose-reeks)
Die skildery Lean on Me beeld nie net die fisiese daad van leun uit nie, maar simboliseer die diep
geestelike én emosionele ondersteuning wat vroue mekaar bied – deur elke seisoen van die lewe. Van
moeders en dogters, tot susters, vriendinne en kollegas – vroue vorm ’n onmisbare netwerk van liefde,
bemoediging en groei. Hierdie verhoudings weerspieël die waarheid van hoe God ons geskape het: om
draers van mekaar se laste te wees.
Elke lewensfase bring nuwe verhoudings en uitdagings, maar een verlange bly konstant – die behoefte
aan ’n ware vriendin. Iemand wat jou nie net in vreugde bystaan nie, maar ook jou laste dra in gebed; wat
saam met jou staan in tye van stryd, en jou altyd herinner aan die belangrikste verhouding van almal: dié
met Jesus.
Hierdie skildery herinner ons dat ons geroep is om mekaar in liefde en gebed te dra – om vir ons susters,
vriendinne en ma’s te bid wanneer hulle moed verloor. Ware vriendskap, gebou op geloof en gebed, is
kosbaarder as goud. Hierdie verhoudings is geskenke van God – maniere waarop Hy ons toerus om
mekaar deur die storms van die lewe te dra.
Die goue aksent in die skildery verteenwoordig hierdie geestelike rykdom – die onsigbare, maar kragtige
draad van God se hand wat elke verhouding deurweef. Dit is ’n simbool van Sy volmaakte plan en die
onbreekbare band wat Hy vorm wanneer ons mekaar in liefde dien. Hierdie soort liefde, gebed en
verbondenheid het ewigheidswaarde – dit gaan verder as die hier en nou.
Die skildery Lean on Me dien as ’n sagte maar kragtige oproep aan elke vrou:
Kyk deur die oë van God na ander vroue – sien verby foute, en raak bewus van die koninklike waarde van
elke vrou as ’n prinses van die Allerhoogste Koning.
Ons verhoudings, of dit nou diep en lewenslank is of tydelik en klein, behoort gekoester te word deur die
lens van genade en gebed. Elke vrou is uniek geskape en geroep om met liefde en respek na ander te
kyk – deur die oë van die Vader.
Want elke vrou, ongeag haar seisoen of omstandighede, dra koninklike waarde:
sy is ’n dogter van die Koning.
Mag jy weer opnuut besef hoe waardevol jy is in God se oë
– en ook in die oë van die mense rondom jou.
- cobaKUNS
Share



